Onderhoud met Hendrik Jansen

Alwyn Roux: Hoe het u betrokke geraak by die vertaling van Deneys Reitz se Kommando –van Perde en Manne (2013) en Willie Steyn se Die groot Boere-ontsnapping (2015)?

Hendrik Jansen: Trevor Emslie, praktiserende advokaat, emeritusmedeprofessor aan die Universiteit van Kaapstad, en redakteur en hoof van die Kaapse uitgewer, Cederberg, het my ’n kopie van ’n vertaling van Commando deur Deneys Reitz in Afrikaans gegee om te lees. Dit is in 1932, ’n jaar voor die Bybel in Afrikaans verskyn het, gepubliseer. Uit die aard van die saak was dit argaïes en vol foute. Uit die gesprek wat daarna gevolg het, het die plan gekom dat ek ’n vars, moderne vertaling uit die oorspronklike Engels sou doen wat Cederberg dan sou uitgee.

Wat Willie Steyn betref: Die familie van die skrywer (Petrovna Metterlekamp) het die oorspronklike Hollandse manuskrip vir Trevor Emslie van Cederberg gegee en hom gevra om dit in Engels uit te gee. Emslie het ingestem, maar ook besluit dat, as dit in Engels uitgegee sou word, dit ook in Afrikaans moes verskyn. En hy het my gevra om die Afrikaanse vertaling uit die oorspronklike Hollands te doen.

Alwyn: Hoe het u te werk gegaan om Die Groot Boere-ontsnapping vanuit die oorspronklike Hollands na Afrikaans te vertaal? Watter spesifieke uitdagings het die vertaling van die teks aan u gestel?

Hendrik: Die Boere se taalgebruik ten tye van die Boereoorlog was sekerlik nou verwant aan die Afrikaans soos ons dit vandag nog gebruik; tog was hulle skryfwyse steeds in die Hollandse taal, maar tot ’n groot mate reeds afgewater en makliker verstaanbaar. En dan is daar Van Dale, die Nederlandse woordeboek, wat van hulp was by onbekende woorde en uitdrukkings.

Vir my is die uitdaging van ’n vertaling uit ’n ander taal na Afrikaans die volgende: Vir die oorspronklike skrywer om iets of dinge in Afrikaans te beskryf, hom/haar Afrikaans te hoor praat en hom/haar in Afrikaans te laat dink.

Alwyn: Het die vertaling van die Engelse Commando ander uitdagings gestel as die van die Nederlandse Die groot Boere-ontsnapping?

Hendrik: Uiteraard is Kommandovan Perde en Manne uit Engels vertaal en Die Groot Boere-ontsnapping uit Hollands. Elke taal het sy eie idiomatiese uitdrukkinge, segswyses en taalgebruike, en my uitdaging is/was om die vertellinge, beskrywings en gedagtes in Afrikaans weer te gee soos dit in die oorspronklike Engels en Hollands tot uiting gekom het; onder andere om die korrekte Afrikaanse uitdrukkings of beskrywings te kies om die gepaste stemming en gemoedstoestande soos vreugde, smart, vrees, woede, ontroering, ensovoorts, weer te gee.

Alwyn: Die Groot Boere-ontsnapping het ook op ’n ander manier as deur die teks “lewend” gebly. Willie Steyn het sy jongste seun na die Russiese skeepskaptein wat hom uit die see gered het, vernoem. Vertel ons asseblief meer van dié storie agter die storie.

Hendrik: Willie Steyn het sy jongste seun na Vladimir Petroff Kissimof, die Russiese skeepskaptein, Vladimir Petroff, vernoem. Vladimir Steyn se dogter, Willie Steyn se kleindogter, is Petrovna Metelerkamp en haar dogter is Mila Petrovna. Petrovna Metelerkamp het haar oupa se storie kortliks aan Trevor Emslie vertel en hom toe uitgenooi om die Hollandse manuskrip te laat vertaal en uit te gee. Alhoewel hy die storie geken het, het hy in vervoering en woordeloos na Petrovna se weergawe van haar oupa se storie geluister. Die kans dat hy dit nie sou uitgee nie, was nul.

Gedurende die dertig/veertiger jare van die vorige eeu het ’n sekere Visagie ’n avontuurverhaal: Terug na kommando – avonture van Willie Steyn en vier ander krygsgevangenes, die lig laat sien. Dit is herhaaldelik herdruk en is as ’n leesboek vir skole voorgeskryf. Willie Steyn se teks het geen erkenning hiervoor ontvang nie. Sonder om verder oor die saak uit te wei, noem ons net dat Petrovna aan Emslie gesê het dat die naam “Visagie” nooit in haar huis gebruik word nie.

Alwyn: U is kennelik geïnteresseerd in die vertaling van geskiedkundige tekste na Afrikaans. Waarom júís hierdie tekste na Afrikaans vertaal?

Hendrik: Trevor Emslie was in my eerste matriekklas in 1968 by St Stithians College waar ek in 1967 as onderwyser in Afrikaans aangestel is. Ná die verloop van omtrent veertig jaar het ons mekaar weer ontmoet waar ek toe kennisgemaak het met ’n hoogs aangeskrewe advokaat, professor aan die Universiteit van Kaapstad en die uitgewer van talle boeke as die hoof van Cederberg-uitgewers. Met verloop van tyd het ons mekaar weer leer ken en ’n wonderlike vriendskapsband het tot stand gekom.

Ons het heelwat in gemeen, o.a. die liefde vir boeke en goeie stories en ook van stories met ’n Suid-Afrikaanse agtergrond. Emslie het onder andere ’n bewondering vir Leipoldt en Deneys Reitz en Herman Charles Bosman se stories, en hy beskou himself as ’n Engelse Boer. Na amper veertig jaar as ’n Afrikaansonderwyser by Engelse skole, is vertaling van Engels na Afrikaans amper tweede natuur vir my. My genoemde vertalings het uit Trevor Emslie se behoefte om ook Afrikaanse letterkunde te publiseer, gespruit.

die-groot-boereontsnapping_20151109_0001

Alwyn: Op dié punt sou mens seker kon vra hoe die studeerkamer van ’n vertaler lyk. Watter boeke/hulpmiddels is onontbeerlik vir die vertaler?

Hendrik: My een muur bevat al my geliefkoosde leesstof versamel deur die jare. Daar is naslaanboeke, biografieë, bekende name wat my daagliks dophou met ’n frons of ’n glimlag, en nuttelose skatte wat iemand eendag seker in die rommelmandjie gaan gooi. Ek en my rekenaar op my lessenaar is nooit alleen nie. Ek is omring deur HAT, Afrikaanse woordelys en spelreëls, Pharos se Tweetalige Woordeboek, Sinonieme en Verwante Woorde deur die Buro van Wat, Oxford Pocket English en Chambers’s Etymological Dictionary wat nog aan my pa behoort het, en ander naslaanboeke wat soms die wa deur die sloot kan help soos Barnes se Afrikaanse Grammatika vir Engelssprekende Leerlinge. My uitsig deur my studeerkamervenster oor die baai na Mosselbaai span die kroon.

Dit mag interessant wees om hier te noem dat ek en Trevor Emslie ’n posduif het wat gereeld op vlugte tussen Mosselbaai en Kaapstad diens doen. Na ek ’n werkstuk voltooi het, neem onse duif dit in ’n oogwink na Trevor wat dit dan proeflees en aanbevelings voorstel. Hierna vat die wagtende duif terug koers Suid-Kaap toe en nie lank daarna nie vlieg hy weer Kaap toe met ’n glimlaggende imoji saam met hom – nou is ons reg vir publikasie. Hoe dit ookal sy, op hierdie manier “merk” Trevor die werk van sy ou skoolonderwyser.

Alwyn: Watter ander onderwerpe is vir u interessant om te lees?

Hendrik:
Ek lees wyd of liewer, ek probeer so doen of het so gedoen, maar deesdae verwyl ek my tyd op die gholfbaan, doen bietjie tuinwerk, hou van rondspeel in die kombuis en lees koerante van voor tot agter en kyk met ’n kieskeurige oog na TV. Biografie en historiese romans vind ek interessant, maar duimgesuigde stories verveel my gou.

Alwyn: Met watter vertalings is u tans besig?

Hendrik: Een van die hoogtepunte wat my amper daagliks besig hou, is die vertalings vir “Kaapse Rebel”. Trevor Emslie het twee jaar gelede die blok begin wat gereeld elke Donderdagoggend op die Wêreldwye Web verskyn. Dit is ’n poging om die vlam van die beste Suid-Afrikaanse en ander stories hoog te laat brand. Dit verskyn in Engels en Afrikaans, en dis hier waar ek my bydraes lewer. Dit is byvoorbeeld ’n aangename uitdaging om oom Schalk en die ander manne in Jurie Steyn se voorkamer, wat ook as Marico se poskantoor diens gedoen het, Afrikaans te laat praat. Ons glo dat dit ’n bevredigende verryking van ons taal is. Tot op hede het ons reeds omtrent ’n honderd en vyftig Kaapse Rebelstories die lig laat sien. Dit is gratis om by Kaapse Rebel (caperebel.com) aan te sluit, en ons “joiners” ontvang elke week ’n storie in Afrikaans en Engels.

Verder vertaal ek op die oomblik No Outspan, die derde boek in Deneys Reitz se trilogie Adrift on the Open Veld, wat Emslie ook gepubliseer het. Ek behoort so halfweg deur die jaar hiermee klaar te wees, en ná ons dit geproeflees het, behoort dit teen die einde van die jaar op die rakke te wees.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s