Onderhoud met Marlise Joubert

Alwyn Roux: Sal jy asb. meer agtergrondinligting gee oor die aanvanklike idee om die vertalingsprojek van in a burning sea (2014) te begin?

Marlise Joubert: Ek was in 2006 op ʼn besoek oorsee en ʼn week lank in Boedapest. Ek het die allerwonderlikste boekwinkels daar ontdek en teruggekom met ʼn swaar tas vol digbundels, almal natuurlik vertalings van Hongaarse digters, asook vele ander digters uit verskillende Europese lande. Dit het vir my gevoel asof daar haas geen land is wat nie sy vertalings na Engels het van hulle digters het nie. Digters waarmee ons hier nooit voorheen in aanraking sou kom, as dit nie was vir hierdie vertalings  nie. Die vertaalkunde beklee ʼn uiters belangrike posisie oorsee en word natuurlik as voltydse beroepe bedryf. Dis hier waar ek skielik besef het, dat ons eie vertalings van die Afrikaanse digkuns veral, omtrent geen bestaansreg of sigbaarheid het nie! Behalwe by monde van enkele vertalings van ons bekendste digters soos Breytenbach en Antjie Krog.

Omdat ons ook ʼn groot aantal oorsese besoeke op die webblad ontvang, het ek later weer daaraan gedink dat daar nie werklik ’n behoorlike bloemlesing met vertalings is wat spesifiek ons kontemporêre digters insluit nie. Nie in Engels of Nederlands nie. Nie oorsee of plaaslik nie. Tog is daar oor jare heen ’n baie groter belangstelling in Afrika, Suid-Afrika en Afrikaanse studies – byvoorbeeld dinamiese Afrikaanse departemente by universiteite in Poland, Wene en Moskou, asook enkeles in Nederland en België. Dus het ek gedink dat dit ’n goeie investering sal wees om so bloemlesing op die been te bring, juis vanweë die uniekheid en hoë kwaliteit van ons Afrikaanse digkuns tans, wat net so goed vergelyk as baie ander lande. Daar was wel ’n artikel wat ’n volledige oorsig oor ons digkuns gee deur prof Louise Viljoen wat ’n hoofstuk vorm in SA Lit – Beyond 2000, saamgestel deur Michael Chapman  (uitgegee deur University of KwaZulu-Natal Press, 2011). ’n Langer essay is hieroor gepubliseer in 2012 en op ons webblad geplaas:

http://versindaba.co.za/2012/01/30/louise-viljoen-of-chisels-and-jackhammers-afrikaans-poetry-2000-2009/.

Ek dink dat sedert demokratisering ons Afrikaanse digkuns goed gevestig geraak het as een van die mees gerekendes in die Suid-Afrikaanse letterkunde en multi-linguale samelewing. Die noodsaaklikheid om ʼn groter verskeidenheid van ons digters oorsee en ter plaatse bekend te stel, lê dus juis daarin om so ʼn versameling van vertalings byeen te bring om ’n gaping en behoefte ter plaatse en in die internasionale wêreldletterkunde te oorbrug. Hoewel hierdie bloemlesing ook ʼn waardevolle bron sal wees vir akademici en taalnavorsers, was die hoofdoel tog maar om meer poësielesers hier en veral in ander lande te werf vir ons digters en wat ʼn groter deelname hopelik sal bewerkstellig aan oorsese belangstelling.

burningsea_omslag

Alwyn: Die projek is omvangryk en bevat Engelse vertalings van 30 Afrikaanse digters. Waarom het jy besluit om te fokus op hierdie digters se werk?

Marlise: Ek het ʼn klompie digters gekies wat ek gedink het in die versameling opgeneem moet word en vir hulle gevra of hulle sou wil deelneem aan die vertalingsprojek. Die entoesiasme waarmee die projek verwelkom is, was oorweldigend. Nie alle digters kon betrek word nie. Ek moes sekere riglyne opstel. Eerstens wou ek nie ʼn versameling hê waarin 100 of meer digters in opgeneem word nie, want dan moet mens outomaties afskaal met die gedigte per digter. Om net een gedig dan van elkeen te kies, sou ook geensins verteenwoordigend wees van ʼn spesifieke digter se werk en styl nie. Ek het dus besluit op 10 gedigte in Engelse vertalings, waaruit André P. Brink dan later vier, vyf of meer gedigte volgens sy oordeel kan kies sodat daar minstens ʼn groepie gedigte per digter kan verskyn in ʼn versameling. Hierdie keuse het nie berus op ʼn waardeoordeel nie of die aantal bladsye wat ʼn digter dan kwansuis sou verdien nie. Uiteraard sou die lengte van die gedigte per digter ook die aantal bladsye bepaal!  ʼn Kort gedig is ook nie noodwendig minder belangrik of swakker as ʼn lang gedig nie.

Die ander riglyn was dat dit almal kontemporêre digters sal wees wat dan in ʼn bepaalde tydperk minstens 2 tot meer bundels die lig laat sien het as publiserende digter by ʼn gevestigde uitgewer. Ek het debute en selfpublikasies buite rekening gelaat. Die tydperk was dus 2005 tot 2011. Op die ou end het dit uitgewerk op 30 digters. Elkeen kon 10 gedigte van ʼn eie keuse lewer om vertaal te word.

Alwyn: 9 vertalers was by die vertaling van gedigte betrokke. Sal jy meer kan vertel oor die vertalers en hulle betrokkenheid by die projek?

Marlise: Ja, dit was vir my belangrik dat die vertaler en digter ten nouste moes saamwerk tydens die vertaalproses. Ek het van ons heel bekendste en vernuftigste vertalers in Engels genader. Vertalers kon kies watter digters hulle wil vertaal. As die digter nie tevrede was met die vertaler nie (wat in twee gevalle wel gebeur het) sou ek iemand anders voorstel. Sommige vertalers het natuurlik meer tyd tot hulle beskikking gehad en kon meer digters akkommodeer, terwyl ander net vir ʼn paar kans gesien het. Die digters het ook self besluit watter gedigte hulle wil voorlê vir die projek. Op dié manier is enige moontlike konflik oor keuses uitgesluit. Die digter moes absoluut tevrede gewees het met die vertalings en daarom het vertaler en digter nou saamgewerk. Daar was natuurlik ander digters wat hulle eie gedigte kon vertaal, of reeds oor vertalings beskik het. Andre P. Brink moes deur meer as 300 vertaalde tekste werk. Die gedigte wat oorgebly het, het natuurlik ook intussen ʼn plek gevind en is in ons vertaalkamers op Versindaba gepubliseer. Géén van die vertalings het dus heeltemal verlore gegaan nie.  Die idee hieragter is dat ʼn bepaalde leser wat vir die eerste keer via die bloemlesing van ʼn sekere digter kennis neem, nog verdere verse van die betrokke digter op Versindaba sal vind. Dit word ook so genoem in my voorwoord tot die bloemlesing.

Alwyn: Hoe gaan mens te werk om jou eie vertalings van ander digters te publiseer?

Marlise: Dis moelik om hierdie vraag te beantwoord. Die vertaler moet maar seker ’n uitgewer nader en verneem of hulle belangstel. Op Versindaba publiseer ons nog steeds vertaalde tekste wat op standaard is. Indien mens ’n bloemlesing wil saamstel, dan is dit goed om borgskappe daarvoor te kry sodat jy die uitgewer ook met die omvattende onkostes daarvan kan hulp wees. Dis verblydend dat Protea Boekhuis reeds heelwat vertalings in Afrikaans gepubliseer het, veral Nederlandse digters. Maar ek dink dis ook belangrik om die Afrikaanse letterkunde internasionaal meer bekend te stel.

Alwyn: Jy is self ook ’n digter en ’n vertaler. Sal jy ons asb. meer vertel oor die vertaalproses?

Marlise: Nee, ek is nie juis ’n vertaler nie! Ek vertaal soms ’n gedig uit die Engels in Afrikaans en het onlangs agt kinderboeke vir Jacana vertaal in Afrikaans.  Maar ek sal nooit my hand daaraan waag om vir ’n publikasie soos ’n bloemlesing te vertaal nie. Hier het jy kundigheid nodig, mense wat in die bedryf reeds gevestig en bekend is. Die paar kere dat ek self ’n Engelse teks aangepak het, het ek dit merendeels as ’n soort ‘omdigting’ gedoen, eksperimenteel. Sommige vertalers hou daarvan om so na as moontlik by die oorspronklike teks te bly. Ek het weer verkies om ook my eie verbeelding in te span sodat die gedig ’n eie lewe aanneem en nie moet klink soos ’n tipiese vertaling nie. Ook nie altyd maklik nie! Ek het lank gelede so groepie van Yehuda Amichai se gedigte vertaal en op Versindaba geplaas.

Alwyn: Wat is die waarde van die vertaling van kontemporêre Afrikaanse poësie in die Suid-Afrikaanse en die internasionale konteks onderskeidelik?

Marlise: Op sy beste is alle vertalings van Afrikaanse gedigte se doel om bekendstelling aan Afrikaanse digters te gee, aan ʼn leserspubliek wat nie vantevore van hulle kennis kon neem nie. Ter plaatse, en internasionaal. Natuurlik sal ʼn bloemlesing soos In a burning sea nie werklik die geheel van enige digter se oeuvre kan reflekteer nie. Maar dis al ʼn begin. So iets kan lei tot optredes van die digter of selfs Individuele vertalings van ʼn hele bundel. Ek kan weer verwys na bogenoemde toe ek soveel Hongaarse digters ontdek het. Slegs deur vertalings van hulle tekste. Vertalings van digters wêreldwyd se waarde is onteenseglik verrykend vir enige poësieliefhebber of navorser.

Alwyn: Is daar ’n saak te maak vir die vertaling van ander Suid-Afrikaanse tale behalwe Afrikaans na Engels?

Marlise: Ja, natuurlik. Hoe meer tale in ons land betrek word hoe beter. ’n Taal is kultuurgebonde, en gedigte reflekteer juis unieke ervarings en idees van digters uit hul onderskeie situasie. Ek hoop van harte dat meer samestellers van bloemlesings na vore kan kom en digters uit alle tale kan betrek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s