Onderhoud met Anné Engelbrecht

Alwyn Roux: Jy het in jou MA-studie ondersoek ingestel na die problematiek van die vertaling van aanspreekvorme in Afrikaans aan die hand van Alan Paton se Cry, the beloved country. Sal jy asb. meer vertel van die hooffokus van jou studie?

Anné Engelbrecht: Die doel van die studie was om ’n teoreties gefundeerde Afrikaanse vertaling van Cry, the beloved country daar te stel. Die hooffokus van die studie was daarom op die praktiese vertaling van die teks waarna die vertaalprobleme wat tydens die vertaling ondervind is, geannoteer is. Die vertaling van aanspreekvorme was een van dié probleme. Dink byvoorbeeld aan die k-woord (wat wel in die teks voorkom), moet ’n mens dit behou om histories korrek te wees, of laat jy dit weg om nie vandag aanstoot te gee nie? En wat van die onderskeid wat in Afrikaans tussen die formele aanspreekvorm u en die informele aanspreekvorm jy getref word? Hierdie onderskeid kom nie in die bronteks voor nie omdat dit nie in Engels voorkom nie. Ander vertaalprobleme wat onder die loep geneem word sluit in die vertaling van geografiese name, die gebruik van skyn-Zoeloe in die teks en die vertaling van tydsvorm.

Alwyn: Jy het vir die studie ongeveer 80 bladsye van Paton se teks vertaal na Afrikaans. Verduidelik asb. die werkswyse van hoe mens ’n teks vertaal?

Anné: Ek het die vertaling aangepak met die doel om ’n MA-graad te behaal. Om hierdie rede was dit noodsaaklik om die vertaling vanuit ’n spesifieke teoretiese raamwerk te benader. Ek het op Hans Vermeer se Funksionele Skoposteorie besluit. Met dié teorie poog Vermeer om ’n algemene vertaalteorie vir alle tekstipes (letterkunde inkluis) daar te stel. Binne die Skoposteorie bepaal die doel van elke vertaling hoe die doelteks (die uiteindelike vertaling) moet lyk. ’n Mens moet dus heel eerste vasstel wat die doel van die vertaling binne die doelkultuur is. Daarna is dit maklik om jou vertaalkeuses met die doel (of skopos) van die vertaling in gedagte te maak. Deeglike navorsing, goeie woordeboeke en heelwat tyd is ook nodig.

Alwyn: Die roman is in 23 tale vertaal, maar is nie voorheen in Afrikaans vertaal nie. Watter redes sou jy aanvoer waarom dit nie in Afrikaans vertaal is nie?

Anné: Volgens my kan daar hoofsaaklik twee redes voor aangevoer word. Eerstens is uitgewers vanuit ’n sake-oogpunt gewoonlik huiwerig om vertalings uit te gee. Vertalings verkoop gewoon nie so goed nie. Daarom het publikasies van Afrikaanse vertalings van Engelse fiksie sedert die middel 1990’s drasties afgeneem. Die feit dat daar so min Engelse literêre romans in Afrikaans vertaal word kan ook gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat uitgewers meen dat die meeste potensiële kopers van Afrikaanse vertalings uit Engels eerder die teks in die oorspronklike Engels sal wil lees. Tweedens, meen ek, dat die inhoud van die teks nie met die Nasionale Party (wat tydens die apartheidsjare aan bewind was) se beleide aangaande rasseaangeleenthede ooreengestem het nie. Vanuit ʼn politieke oogpunt was die boek nie ‘gepas’ vir Afrikaanse lesers nie. Die politieke situasie van daardie tyd het beslis ʼn rol gespeel in die feit dat Cry, the beloved country nooit in Afrikaans vertaal is nie.

cry-the-beloved-country

Alwyn: Paton se roman is nie net van een taal na die ander vertaal nie, maar is ook twee keer verfilm en na ’n opera verwerk. Hoe geslaagd was die vertalings van die een medium na die ander?

Anné: Die feit dat die boek twee keer verfilm is (eers in 1950 met Zoltan Korda as regisseur, en daarna in 1995 met die Suid-Afrikaner Darrell Roodt as regisseur) dui daarop dat die verwerking van die teks na ander media uiters suksesvol was. Dit gebeur nie sommer dat ʼn boek twee keer verfilm word nie. Bekende akteurs soos Sydney Poitier en James Earl Jones in die rolverdeling dui ook op die sukses van die films.

Die opera is aanvanklik in 1949 as ʼn musikale verhoogstuk vir Broadway, onder die titel Lost in the stars, verwerk. Die artistieke gehalte van dié verwerking is so goed dat daar meestal nie na hierdie werk as ʼn ‘musical play’ verwys word nie, maar eerder as ʼn opera. Hierdie opera is steeds wêreldwyd gereeld op die planke. In Suid-Afrika het Kaapstad Opera dié produksie so onlangs as 2011 aangebied – 61 jaar na die première in New York. Dit spreek boekdele.

Alwyn: As vertaler, watter projekte sal jy graag in die toekoms wil aanpak?

Anné: Ek sal graag Nederlandse prosa in Afrikaans wil vertaal.

Bronteks Doelteks
Book one

1

There is a lovely road that runs from Ixopo into the hills. These hills are grass-covered and rolling, and they are lovely beyond any singing of it. The road climbs seven miles into them, to Carisbrooke; and from there, if there is no mist, you look down on one of the fairest valleys of Africa. About you there is grass and bracken and you may hear the forlorn crying of the titihoya, one of the birds of the veld. Below you is the valley of the Umzimkulu, on its journey from the Drakenberg to the sea; and beyond and behind the river, great hill after great hill; and beyond and behind them, the mountains of Ingeli and East Griqualand.

The grass is rich and matted, you cannot see the soil. It holds the rain and the mist, and they seep into the ground, feeding the streams in every kloof. It is well-tended, and not too many cattle feed upon it; not too many fires burn it, laying bare the soil. Stand unshod upon it, for the ground is holy, being even as it came from the Creator. Keep it, guard it, care for it, for it keeps men, guards men, cares for men. Destroy it and man is destroyed.

Where you stand the grass is rich and matted, you cannot see the soil. But the rich green hills break down. They fall to the valley below, and falling, change their nature. For they grow red and bare; they cannot hold the rain and mist, and the streams are dry in the kloofs. Too many cattle feed upon the grass, and too many fires have burned it. Stand shod upon it, for it is coarse and sharp, and the stones cut under the feet. It is not kept, or guarded, or cared for, it no longer keeps men, guards men, cares for men. The titihoya does not cry here any more.

The great red hills stand desolate, and the earth has torn away like flesh. The lightning flashes over them, the clouds pour down upon them, the dead streams come to life, full of the red blood of the earth. Down in the valleys women scratch the soil that is left, and the maize hardly reaches the height of a man. They are valleys of old men and old women, of mothers and children. The men are away, the young men and the girls are away. The soil cannot keep them any more.

Deel een

1

Daar is ’n besonder mooi pad wat van Ixopo na die heuwels loop. Hierdie heuwels is met gras bedek en golwend, en hulle is onbeskryflik mooi. Die pad klim vir sewe myl deur die heuwels na Carisbrooke; en wanneer daar geen mis is nie, kyk jy daarvandaan uit oor een van die asemrowendste valleie in Afrika. Jy is met gras en varings omring en soms hoor jy die verlate roep van die titihoya, een van die voëls van die veld. Onder jou lê die Umzimkulu-vallei, onderweg van die Drakensberge na die see; en verder, anderkant die rivier, vind jy heuwel op lieflike heuwel; en nog verder lê die berge van Ingeli en Griekwaland-Oos.

Die gras is dig en welig; jy kan die grond nie sien nie. Die gras hou die reën en die mis vas, dit deurweek die grond en voed die strome in elke kloof. Die veld is goed versorg en daar wei nie te veel beeste op nie; daar woed ook nie te veel brande wat die aarde blootlê nie. Trek jou skoene uit wanneer jy daarop staan, want die grond is heilig, steeds ongerep soos die Skepper dit geskape het. Onderhou dit, waak daaroor, sorg daarvoor, want die aarde onderhou die mens, beskut die mens en sorg vir die mens. Vernietig die aarde, en jy vernietig die mens.

Daar waar jy staan, is die gras dig en welig; jy kan die grond nie sien nie. Maar die welige groen heuwels daal af na onder toe. Hulle daal af na die onderste vallei, en soos hulle daal, verander hulle aard. Die heuwels word rooi en kaal en die gras kan die reën en die mis nie meer vashou nie, en die strome in die klowe is droog. Te veel beeste wei daarop en daar het te veel brande gewoed. Trek maar weer jou skoene aan, want die aarde is ru en skerp, en die klippe sny jou voetsole. Die aarde word nie onderhou nie, daar word nie oor gewaak of voor gesorg nie; net so onderhou, beskut en sorg die aarde nie meer vir die mens nie. Hier roep die titihoya nie meer nie.

Die groot rooi heuwels staan verlate, en die aarde het soos vlees weggeskeur. Die weerlig flits bo die heuwels, die wolke stort hulle reën daaroor neer, die dooie strome word lewendig, vol van die aarde se rooi bloed. Onder in die valleie maak vroue vlak vore in die oorblywende grond, en die mielies bereik skaars skouerhoogte. Dit is valleie vol ou mans en ou vroue, van moeders en kinders. Die mans is weg, die jong manne en die meisies is weg. Die grond kan hulle nie meer onderhou nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s