Onderhoud met Heilna du Plooy

Alwyn Roux: U hou uself besig met heelwat vertaalwerk. Ek dink aan die vertalings van enkele fragmente uit Isak Dineson se Seven Gothic Tales as motto’s tot die hoofstukke in u roman Die taal van been (2016), die vertaling van Willem van Toorn se gedigte in Paaie vir die deurtog (2014), fragmente uit Rainer Maria Rilke se Briefe an einen jungen Dichter in ‘n Pleidooi vir die poësie (1998) en die Bybelvertalings waarmee u besig is. Waarom sal u kies om vertaalwerk te doen?

Heilna du Plooy: Vertaling is ’n eiesoortige aktiwiteit waarin interpretasie en taalvaardigheid beide ter sake is. Ek is opgelei om te analiseer en interpreteer en as skrywer is die verfyning van my taalvermoë ’n voortgaande opdrag aan myself. As mens goed wil vertaal, moet jy myns insiens eers die bronteks baie goed analiseer, sowel wat struktuur, aard en konteks as formulering en taaleiesoortigheid betref. En dan moet jy gepaste woorde en formulerings vind wat die bronteks respekteer en aan die estetiese sowel as die semantiese en kontekstuele eienskappe laat reg geskied. Hierdie siening geld natuurlik wanneer dit gaan om literêre of akademiese vertaling. As mens byvoorbeeld advertensies vertaal, sal daar sekerlik meer vryheid bestaan om kreatiewe oplossings te gebruik wat in die doeltaal optimale trefkrag het. Ek het meestal akademiese en kreatiewe tekste vertaal waarin die bronteks as teks ’n bepaalde waarde en status het en juis op grond van hierdie waarde en status vertaal word. Daarom geld die eis om die bronteks eerstens so goed as moontlik te verstaan en dan so noukeurig maar so kreatief as moontlik in die doeltaal te herformuleer vir my. Hierdie bymekaarkom van analitiese, interpretatiewe, talige en kreatiewe vaardighede is vir my baie stimulerend en altyd opnuut ’n uitdaging, maar dit is ook ’n taak wat groot bevrediging verskaf. Die taal self gee soms op ’n wonderlike manier oplossings wat nie net die oorspronklike teks respekteer nie, maar dit ook ’n groot kompliment maak. Dit is dus lekker werk.

Ek moet dalk hier byvoeg dat die Bybelvertaling waaraan ons tans werk (ek is een van die literêre adviseurs by die Ou Testament) ’n baie spesifieke soort vertaling is. Die vertaalbenadering wat gevolg word is een van spanwerk en onderhandeling. Dit is nodig omdat vertaling uit antieke tale baie verskillende spesialisasies vereis. Die Hebraïci moet die brontaal en al die taalverskynsels oor al die eeue van die ontstaanstye van die boeke uiteraard baie goed ken. Hulle moet ook as eksegete die eksegetiese tradisie ken oor eeue heen want daar is vroeë interpretasies van die tekste wat belangrike aanduidings verskaf oor moeilike, ontoeganklike en selfs onverstaanbare gedeeltes. Die vertaling van name van plante en plekke, mate en gewigte, edelstene en ander tegnies terme is ’n  studieterrein opsigself. Die vertaalkundiges moet die vertaaltradisies van vorige vertalings ken om die huidige vertaling daarteen te meet en te beoordeel en die taalmense, taal- en literêre kundiges, moet verantwoordelikheid neem vir die korrektheid in die doeltaal, maar moet ook sorg dat die toonaard pas by die brontekste en konsekwent bly in bepaalde groepe boeke wat bymekaar pas, hetsy op grond van inhoud of tydperk van ontstaan.

Alwyn: Hoe besluit u watter tekste om te vertaal?

Heilna: Wat die literêre tekste betref, het dit al gebeur dat ek in die buiteland ’n referaat gaan lewer en na Afrikaanse tekste wil verwys en dan moes ek maar die gedig of uittreksel uit ’n roman vertaal om dit moontlik te maak dat mense verstaan waaroor ek praat. Agterna bestaan die vertaling dan wel en kan op ander maniere ook gebruik word.

By die Bybelvertaling is die vertaalopdrag en die versoek om daaraan deel te neem ’n gegewe.

Wanneer ek egter vrylik kan kies, is dit tekste wat my boei wat ek graag wil vertaal. Ek het al dikwels iets in Engels of Nederlands of Duits gelees wat ek wens ek in Afrikaans kan weergee – dit is asof ek in die lees die betekenis in Afrikaanse woorde kan hoor en soms kon ek dit dan wel doen.

Die vertalings van die motto’s vir Die taal van been was verskriklik lekker om te doen. Karen Blixen, oftewel Isak Dinesen, se styl is ouwêrelds elegant, ietwat omslagtig en baie indirek op ’n bestudeerd gesofistikeerde wyse.  Die verhale in Seven Gothic Tales is aanvanklik in Engels geskryf, maar die vroeg twintigste-eeuse Europese en spesifiek Deense hoflikheid en stylvolle lewenspraktyk, merk die Engels bepaald. Om iets hiervan in Afrikaans weer te gee, was suiwer vreugde. Ek hoop net dit het so goed gewerk as wat dit lekker was om dit te doen.

die-taal-van-been

Alwyn: Hoe gaan u te werk om ’n spesifieke teks te vertaal?

Heilna: Soos ek hierbo geskryf het, is dit vir my belangrik om ’n teks vooraf goed te verstaan, die betekenis daarvan te begryp, maar ook die toonaard en styl goed aan te voel. Daar is tog ’n mate van inlewing in die teks nodig as jy wil voorkom dat die vertaling meganies is. Blote korrektheid is immers nie genoeg as dit by literêre tekste kom nie. As ek dan voel ek is vertroud genoeg met die teks, kan die vertaling self begin, maar ek bly tot aan die einde van die proses bewus van die eise wat taalomsetting stel. Dit is nie die eerste woord wat in jou kop kom, wat noodwendig die beste een is nie. Dit word dan ’n taaloefening van formaat, ook en veral by die Bybelvertaling omdat jy woorde moet soek wat konsepte uit ’n gans vreemde kultuur oordra. Dan moet mens sowel duidelikheid in die doeltaal as die eksotiserende moontlikhede van die bronteks in ag neem.

By die vertaling van poëtiese tekste is die ideaal dat mens die vertaling saam met die digter deurwerk (as dit moontlik is). Herwerk en herbesinning bly vir my regdeur baie belangrik. Mens kom dikwels eers later op die regte woord. Wat wel belangrik is, is om te bly glo dat daar ’n geskikte woord of uitdrukking bestaan wat net gevind moet word.

Alwyn: Vertel ons asb. meer van die vertalingsproses van die werk van Willem van Toorn.

Heilna: Willem van Toorn het by ’n vertaalwerkswinkel in Bloemfontein verwys na die gedigsiklus “Het stuwmeer” en dele daarvan voorgelees. Dit het vir my dadelik gevoel asof die toonaard en die tematiek van die gedigte in Afrikaans sou kon tuiskom. So ’n aanvoeling kan verkeerd wees, maar in hierdie geval het dit wel gewerk. Ek het vir hom geskryf om toestemming te vra en begin werk. Ons het die werkkopieë heen en weer gestuur per e-pos. Willem het gevra oor Afrikaanse formulerings en ek oor die reikwydtes van die woordbetekenisse in Nederlands. Omdat die tekste so deeglik bekyk is, kon ek baie aandag gee aan ritmiese verskynsels en klankpatrone ook, iets wat nie altyd moontlik is nie. Die ekonomiese segging van die oorspronklike tekste het goed oorgeplaas na Afrikaans en ek kon die segging soms selfs bondiger maak, wat vir Van Toorn baie mooi was.

paaie-vir-die-deurtog

Alwyn: U is self ʼn digter en skilder. Is hier ook sprake van vertaling van die een kunsvorm na die ander?

Heilna: Inderdaad. Die verskillende kunsvorme het ongelooflik baie vir mekaar te sê. Soms is die werkwyse en denkwyse dieselfde en soms juis nie, maar die gesprek rondom hierdie prosesse is en bly insiggewend na alle kante. So moet mens in alle kunsvorme selekteer en vereenvoudig, hoewel dit in taaltekste en in die visuele kuns verskillende werk. Maar die beginsel bly dieselfde. Wanneer mens skryf, kan jy egter redigeer, jy kan terugstaan van die woorde, hulle op die rak laat lê om hulle senings te wys, soos Breytenbach sê, en dan kan jy later afrond, oorskryf en rondskuif. Dit kan mens met olieverf ook doen, maar met waterverf het jy net een kans. Die verf is deurskynend en jy moet vooraf goed dink wat jy gaan doen want jy kan nie korrigeer of bo-oor werk nie. Wat egter van waterverf weer dieselfde is as taal, is dat die verf soms sy eie kop volg en meng of vloei of meer of minder deurskyn en dan word iets wat aanvanklik byna na ’n fout gelyk het, ’n toegif, asof daar ’n magiese vermoë in die medium self setel wat na vore gekom het buite die toedoen van die skilder. Netso kry ’n skrywer ook soms ’n woord of frase wat soos ’n toegif meer sê as wat die skrywer self gedink het hy sou kon sê.

Alwyn: Is daar enige nuwe vertalingsprojekte op die horison?

Heilna: Ja, daar is tekste wat ek baie graag sou wou vertaal, ook om verskillende redes. Op die oomblik is ek egter besig met ander projekte. Ek hoop net ek leef lank genoeg om darem nog ’n paar dinge wat ek graag wil doen, af te handel.

One thought on “Onderhoud met Heilna du Plooy

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s